Wednesday, March 2, 2011

Ou Skewe Staanlampie

Ou skewe, skewe staanlampie
Steun jy nog alleen skeef
Op kolletjie van droë aarde
Is jou wassies skeefgedruk deur wind

Ou skewe, skewe staanlampie
Staan sterk teen die wind
Wat verwoed woed om alle
Aarde al droër te verslind

Ou skewe, skewe staanlampie
Skeefweg staan jy alleen
Straal ʼn flou ou liggie uit
Wat reguit ligstrepe afgee

Ou skewe, skewe staanlampie
Hoe lank voor jy gaan knak
Jy - so eenkant in die donker
Jou ligkringetjie te skeef in die land

Ou skewe, skewe staanlampie
Troon tog so alleen en skeef
Bo die dorre Afrika en laat
Jou ligkring die bron van lewe wees.

Totale harmonie

As die rooidag breek,
die krieke na hul gate kruip,
die uil haarself toewikkel ,
die blomme weer oop-kelk,
dan sal jy my kry op die rots.

As die eerste lig die klowe kielie, 
en die diep poele dieper blink,
dan roep die hemelse Skilder sy sekretaris
en sê: Skryf! Skryf op jou digitale skyf: 
van My almag en grootheid   
wat Ek openbaar.

Kyk na die dou op die vensterraam,
die druppels glinster traliehek,
na die mossie wat sy donsies reg pik,
en die bome wat windritsel en dan trots oprig,
en skryf, skryf op jou digitale skyf:
van My almag en grootheid
wat Ek openbaar.

Friday, February 11, 2011

Ontheemd

Ek is ʼn banneling,
duif in ʼn hok
vreemd
gevange in my land
vervreemd
van my grond en taal.

Sms moord

My slaap het my bly ontwyk
En gedagteloos het ek beswyk
Gewag vir jou sms woord
En jou stiltes was my moord

Ek het my ontklem aan die foon
Jy het tog na alles, te diep gewoon
In my hart skelm skugter gekryp
En nou wag ek dat jy jou slyp

Om my uiteindelik snyend te los
Soos ‘n hond sonder sy nodige kos
My alleen te laat in my allene verdriet
Is dit na alles al wat jy my kan bied

Of brabbel ek nou in my nagtepsalm
Elke stukkie tikkie wat in my galm
Elke  trokkie bog wat ek kan dink
Of is jy ook dalk in die liefde versink