Thursday, October 28, 2010

Moord

Vier en twintig, sewe, het ek gewag. . .
Vir jou.
Sewe maal sewentig het my oog aanskou
In die maneson.
Elke skadu dissekteer, oë geflits, vir elke hoek
Gewag,           bly wag.
Sonder hoop om jou pad vry te spring
.           .           .
Die ligkring, nie eens soos ’n boef in die nag, helder
ope dag.
Oop en bloot, astrant, tartend goël jy voort,
Jy’t gekom. . .
En kind met kierie van die lig gemaai,
In een swaai
Die anatomie ontbloot. Jou lag, laggend donkerte
G    e   w    o    r    d
’n Sewe sewentig ewigheid, swart kalk, pak.
Oneindig. . . . . . . . . . . . .
Jou geskal en nasionale dans oor my
lewenskassie.
Wrekende. . . Wit. . . Grys. . .na
Raafswart.
Jou oë het verlig. . . soos wat myne verdof. . .

Monday, October 18, 2010

Traan

Dit het stadig gevorm: soos ʼn kraan wat toe gedraai is, maar nog daardie laaste druppel drup
dit het saamgetrek ʼn magtige stroom oor wit spieël het die glad gladder geword
terwyl die skerpsste verdof, verwaas. met dubbelde dikte het dit toegeneem
terwyl newtonwetties begin werk het
die magtige golf stadig afgerommel
en opgedam in die keep het, oorgedam
alle emosie daarin vasgevang
die oomblik onmoontlik uitgerek
stadig het dit getrek
gerek
gebeur
tot die groot oomblik
toe alle bande geskeur is en
dit talloos afgedwaal en die vorm
die vorm van pyn afgedaal het
afgesak het
bodemloos
ondertoe
sodat
alleen
ʼn gladde
strook
die merke
van
strome
kon
vertel.

ʼn gladde
patroon
Af oor
My
wang.

Monday, October 4, 2010

Swanemeer

Wasem, wasem jaag na asem

Elke beweging skeur vel van vleis
Jy vrees, jou voete vergruis.
Krampe van moegheid ruk jou liggaam styf
Jy’s ʼn swaan sonder verblyf.

Swerwe oor die vloere heen,
Dawerende applous is daar geen.
Jou arms hang soos druppels in die lug
Hyg-hyg, terwyl jy bomenslikheid verrig
Maar daar is honderde om jou,
Hul veg na water, verwring vertrap.

Asem, jou knieë knak en jy kan nie
meer op jou tone kom. Vertrap verskeur
gelate val jy neer, jou oog aanskou ...
.... ʼn swanemeer.